Gesonde Hoenderslaai Broodjie

Gesonde Hoenderslaai Broodjie

As daar nou een gereg is wat ek geniet tydens die warm somers hier bo by ons in Noorde, dan is dit slaai. Maar soos almal verval mens gereeld in ‘n groef, sodat jy later nie ‘n groen slaai meer in die gesig wil kyk nie! Dan maak die boer ‘n plan en maak daarvan ‘n ligte maaltyd. Ek is nie ‘n groot eter van nature nie en hou van peuselkos.
As ek broodjies maak dan val dit onder peuselkos en daarom hou ek van piekniek mandjie pak. Ons kuier vir ure onder by die dam en jy pik die heeltyd in die mandjie vir ‘n snoep happie.

Omdat ek lief is om my eie brode te bak, knie ek meer as een maal per week my eie brood.
Ek werk net met sourdoug en as jou plantjie eers aan die gang is, kyk jy nie terug nie, die eeg leef voort. Maar vir julle wat haastig is en nie dae kan wag vir ‘n broodjie om te ontwikkel nie stel ek die onderstaande resep voor. Ek geniet my mini Baugette’s en Panini (baba boetie van Ciabata) om op te tooi met slaai, kaas en vleisies vir ‘n alles in een dis.

Resep vir broodjie
1 kg Koekmeel of 500 g koekmeel en 500 g Nuttywheat om dit ‘n bruin broodjie te maak.
10 ml Sout
20 ml Suiker
1 sakkie Kits gis
50 g Botter of bak margarien – gesmelt
500 ml sterk Louwarm water
150 ml sterk Louwarm melk

Metode
1. Sif die koekmeel, sout en suiker saam.

2. Voeg die kits gis by en neem ‘n ballon klitser en mend dit goed deur sodat die gis eweredig versprei word.

3. Meng die botter, warm water en melk saam en voeg by die droë bestanddele.
Knie die deeg met die hand vir 10 minute totdat dit glad en elsties is.
Die deeg se bo kant moenie soos selluliet boude lyk nie.
Dit moet mooi ferm wees!
As jy met ‘n staan menger knie, gaan dit na ongeveer 5 minute gereed wees.

4. Smeer die deeg se bokant met olie en bedek met kleefplastiek.

5. Laat die deeg vir 30 minute op ‘n warm plek staan of maak dit toe met ‘n kombersie.
MOENIE die deeg in die son sit nie, die son sal die gis doodmaak.

6. Haal die deeg uit die bak en vou die deeg oor mekaar om van die lug uit te kry.
Dit is nie ‘n boks geveg nie!
Verdeel die deeg in 200 g porsies om jou broodjies mee te vorm.
Sien die tabelle vir idees hoe om jou broodjies te vorm.

7. Laat die broodjies eers weer rus en bedek dit om dubbel die volume te rys vir nog 30 minute.
Voorverhit solank die oond na 230 ˚C en plaas ‘n oondpan op die vloer van jou oond om solank baie warm te word.

8. Sodra die broodjie gereed is om gebak te word.
Smeer die broodjies met geklitste eier en sprinkel met sade, kaas, neute, kruie van keuse, selfs koekmeel.

9. Sodra jy voor jou oond staan moet al die panne voor jou lê.
Gooi 10 ysblokkies in die onderste pan, dit gaan onmiddellike stoom veroorsaak.
Jy het dit nodig om te keer dat jou korsies te vinnig hard word.
Dit help jou broodjie baie hoër rys as normaal.

10. Bak die brood vir die eerste 5 minute by 230 ˚C en dan by 200 ˚C vir nog 15 minute as dit klein handbroodjies is.
Vir groot brode sal ek by ‘n egalige temperatuur bak van 200 ˚C vir 35 minute.

11. Laat op draadrakkies afkoel.

Pak van broodjie
2 Hoender borsies – gaar en in blokkies gesny
2 kop Kool – gesnipper
1 kop Granny Smith appels in blokkies – ongeskil
2 Seldery stingels – in baie fyn ringe gesny
¼ k Neute
½ k Lae vet mayonnaise
½ k Lae vet joghurt – appelkoos
Sout en peper na smaak
Mozzarella skywe
Avokadopeer skywe
Slaai blare van keuse

Die vulsel is genoeg vir 2 mense.

Metode
1. Meng al die bestanddele met mekaar en hou die mozzarella skywe, avokadopeer en slaaiblare eenkant.

2. Moenie die broodjies met botter smeer nie want die mayonnaise het reeds genoeg olie in.

3. Pak eers ‘n lagie slaai blare, avokadopeer, mozzarella en dan die hoeder vulsel en eindig af met slaai.
Hierdie broodjie kan op ‘n oop broodjie of ‘n toe broodjie gepak word.

4. Lekker eet!

Bron: Annelien Pienaar.  2015,www.bosenbergguestfarm.co.za

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-11T08:03:07+00:00 0 Comments

Leave A Comment