Koffie Karamel Sjokolade Mousse Koek

Koffie Karamel Sjokolade Mousse Koek

Hierdie koek het my omtrent gryshare gegee. Ek is nie lief vir koffie in soetgoed nie omdat ek swart en bitter koffie drink. Ek voel goeie koffie word bederf deur suiker en melk by te voeg maar dit is net ek! Daarom het ek die perfekte balans tussen die twee gekry. Ek maak dit sonder die likeur as ek weet iemand is alkhol sensitief en gebruik dan net die rum geursel.

Koek
1½ k Wit suiker
¾ k Sonneblom olie
¾ k Kraan water
6 Eiers
1 t Vanielje geursel
1½ k Koekmeel
3 e Kakao
knippie Sout
3 t Bakpoeier

Metode
1. Voorverhit oond tot 180 ˚C.

2. Meng die suiker, olie, water, eiers en vanielje geursel saam.

3. Sif die koekmeel, kakao, sout, bakpoeier.

4. Meng die droë bestanddele met die vloeistof en meng goed deur.

5. Skep in gesmeerde koekpanne en bak vir 40 – 50 minute.

Stroop
1½ k Wit suiker
1½ k Water
1 e Kits koffie in 3 el water opgelos
50 ml Amarula likeur of likeur van jou keuse
½ t Rum geursel

Metode
1. Kook al die bestanddele saam in ‘n kastrolletjie en gooi dit dadelik oor die warm koek wat nou net uit die oond gekom het.

2. Laat die koek eers goed afkoel en smeer dan ‘n hele blik karamel kondensmelk (wat jy goed vooraf geklits het om dit smeerbaar te maak) oor die koek.

Mousse
½ pak Spar se sjokolade mousse (kyk vir die pers pak)
300 ml Melk

Metode
1. Klits die mousse poeier en die melk saam totdat dit verdik het, hoe meer jy klits hoe ligter word die mousse.

2. Smeer oor die karamel laag en sprinkel met gebreekte neute of sjokolade van keuse op.

Hoeveelheid: 1 lang oondpan of 2 enkel laag ronde koeke.

Bron: Fia van der Merwe, 2010. www.bosenbergguestfarm.co.za

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-08T09:41:00+00:00 0 Comments

Leave A Comment