Mikrogolf sjokoladekoek met ‘n geheime vulsel

Mikrogolf sjokoladekoek met ‘n geheime vulsel

Ancoise Venter is een van daardie raak vatter vrouens wat ook nie een sekonde in haar dag mors om goed gedoen te kry nie.  Sy boer, het ‘n koffie winkel en bak ook alles self. Dus liewe dame, waardeer ons hierdie ongelooflike lekker koek en dankie dat jy jou geheime sommer so uitdeel, jy is ‘n ster!

Resep
1 k Koekmeel – gesif
1 k Strooisuiker
12.5 ml Bakpoeier
2 ml Sout
3 Eiers
80 ml Sonneblomolie
75 ml Kakao
1 t hoogvol Koffie – aan gemaak in kookwater
1 k Kookwater

Metode
1. Sif koekmeel, strooisuiker, bakpoeier en sout saam.

2. Klits 3 eiers tot sponserig. Voeg kookolie in dun straaltjie by eiers terwyl menger op hoë spoed klits.

3. Klits nou sterk koffie by kookwater en voeg by kakao, eier en olie en klits als tot skuimerig.

4. Voeg nou die droë bestanddele by die nat bestanddele terwyl met menger geklits word tot net gemeng en glad, moenie te veel klits nie die bakpoeier gaan platval. Gooi in deeglik bespuite ringkoek pan (silikoon soort werk heerlik, maar moet die diep een wees).

5. Bak vir 6 minute op hoog in milrogolf. Keer dadelik na gaar uit op bord en plaas die ring weer terug oor die warm koek. Die koek stoom homself nou heerlik klam. Laat afkoel voor pan verwyder word.

Geheime Sous
1 k Room
1 k Melk
125 ml Botter
1 k Suiker
100 ml Maizena
100 ml Kakao

Metode
1. Meng suiker met maizena en kakao.

2. Meng die melk, botter en voeg die suiker mengsel by in klein kastrolletjie. Smelt die suiker oor lae hitte en kook vir 10 minute totdat die mengsel begin verdik.

3. Verwyder die sous van hitte en laat effens afkoel voordat die room bygevoeg word. Die mengsel sal seker so 5 minute staan voordat jy kan klop. Klop dan die room goed deur en die mengsel sal glansend wees.

4. Gooi net so warm oor die koek. Ek vul die gaaitjie ook met die mengsel. Strooi bietjie kakao oor koek en bedien. Die vulsel stol oor die koek, werk maar vinnig. Kan ook vir gewone skokoladekoek gebruik word.

Bron: Ancoise Venter van Lu Coffee shop, 2015 en Cuisine d’Afique.

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-08T19:24:04+00:00 0 Comments

Leave A Comment