Koekbeslag geskik vir vrugte stukke

Koekbeslag geskik vir vrugte stukke

Sjoe, hierdie koek laat my terug dink aan Ouma Kitty Smit.
Sy self was al ‘n bejaarde dame en het die Skeerpoort Ouetehuis gehad.
Ek onthou my oupa het ook vir ‘n rukkie by haar loseer totdat my ouers sy huisie ingerig het.
Sy was as jong vrou weduwee gelaat en het haar 2 kinders op die plaas alleen groot gemaak saam met Liesbet.

Ouma Kit het altyd gekook, ek onthou hoe sy gesmokte rokkies gemaak het, my Ma het baie by haar gekuier.
Daar het ek ook gesien hoe sy botter maak en dit in die blokvormpies druk.
Die botterpapier het sy in yskoue water gesit en dan elke blok sorgvuldig toe gevou.

Sy het ‘n ou plaashuis gehad wat in die 1930’s gebou is.
Die plafonne was van pewter en ek onthou hoeveel keer ek op my oupa se bed gelê en staar het na die pragtige plafonne.
Ek het daar by ouma Kit geleer appelkoos blokkies en Jodetert bak, suiker koekies en kookkos.
Ek raak so weemoedig as ek aan daardie tye dink.
Hoeveel keer per week wat my Ma nadat oupa weg is, daar gaan kuier het.
Dan het hulle twee of gebak of naaldwerk gedoen.

Daar was ‘n blinde tannie, haar van was Zeelie en sy het gebrei.
Sy het haar sig laat in haar lewe verloor en ek het verwonderd voor haar gestaan as sy so brei.
Sy het NOOIT ‘n fout gemaak nie.
Die mooste kantagtige patroontjies gebrei, my Ma het altyd vir haar die knopies aangewerk en die ribbing voltooi.

Ouma Kitty het rye en rye rhubarb gehad, so het ek as kind dit leer eet saam met suurmelk.
Sy het dit opgekook en dan met kaneel en suiker gegeur.
Ons het koek met dit gebak en as smeer op botterbroodjies geëet.
Ek mis daardie tye!

Nota
Indien jy vars vrugte in die beslag wil gebruik moet jy dit eers sag kook en dan bietjie suiker by gooi om ‘n stropie te maak en dan verder in die beslag gebruik.
Hier het ek Rhubarb gebruik en eers vinnig geblansjeer.
Gebruik liefs jong stingels vir terte, ouerstingels is geneig om draderig te wees.

Resep
Koek
50 g botter
1 kop koekmeel
1 kop suiker
5 ml bakpoeier
3 eiers
65 ml melk
knippie sout
454 g ingemaakte vrugte van keuse

Metode
1. Voorverhit oond na 180 ˚C.
Spuit ‘n tertbak met kleefwerende kos sproei.

2. Verroom die botter en suiker tot lig en donsig.

3. Klits die eiers een vir een by, klits goed na elke byvoeging.

4. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam.
Vou die meel mengsel om die beurt met die melk by die eierbeslag in.

5. Skep uit in tertbak en druk die vrugte in die deeg in.

6. Bak vir 30 minute of totdat gaar.

Stroop
250 ml room of Ideal melk
1 kop suiker
1 tl karamel geursel

Metode
1. Kook al die bestanddele saam en roer voortdurend vir 10minute.

2. Gooi die warm stroop oor die koek sodra dit uit die oond kom.

3. Laat afkoel en bedien met roomys of room.

Hoeveelheid: 1 reghoekige pyrex bak.

Bron: Ouma Kitty Smit, Skeerpoort Ouetehuis.

Foto: Pinterest.

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-10T13:16:46+00:00 0 Comments

Leave A Comment