Lemoen En Papawersaad Koek

Lemoen En Papawersaad Koek

As daar nou een ding is wat nie twee is nie dan is dit my dood, die papawersaadkoek met sy lemoen geur en roomkaas vir die ekstra soet in jou lewe! Dekadent verby!

Nou wil ek eers preek oor roomkaas vs maaskaas! Suiker is higroskopies, dit beteken dit sal altyd water onttrek om homself op te los. Wanneer ons na maaskaas kyk, is maaskaas gewoonlik glad en effens romerig en nie so dik nie.

Daar is nog baie wei in die mengsel teenwoordig. Wei is die water gedeelte in die joghurt of maaskaas voorkom wanneer jy bv. van die produk uitskep en die volgende keer wat jy die bakkie oopmaak sien jy water, wel dit is wei.

Nou met dit ingedagte gaan jy dus kan verstaan dat maaskaas dunner is as roomkaas en gevolglik nog slapper gaan word as jy suiker by die mengsel sit. Roomkaas daar teenoor het reeds meeste van sy wei verloor en is gevolglik baie dikker.

So my eerste keuse vir ‘n roomkaas versiersel is roomkaas en nie maaskaas nie, ek soek nie iets wat die hele wêreld rondloop en nog verder smelt as ek dit uit die yskas haal om vir my gaste voor te sit nie.

Resep
Koek
210 g Botter – kamertemperatuur en sag
210 g Strooisuiker
3 ekstra groot Eiers
Lemoenskil gerasper
60 ml Papawersaad
310 g Koekmeel
knippie Sout
10 ml Bakpoeier
160 ml Melk
125 ml Lemoensap – vars indien mootlik

Metode
1. Berei ‘n ringkoek pan voor en voorverhit oond na 160 ˚C.

2. Room die botter en suiker saam tot lig geel en donsig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging.

3. Voeg 1 teelepel lemoenskil en al die papawersaad by die mengsel en meng goed sodat die bestanddele mooi verprei is in die beslag.

4. Sif die koekmeel, sout en bakpoeier saam.

5. Meng die melk en lemoensap saam en vou om die beurt in die beslag in tesame met die gesifte koekmeel.

6. Skep in pan en bak vir 45 – 50minute.

Stroop
130 g Strooisuiker
140 ml Lemoensap
5 ml Karamel geursel

Metode
1. Smelt die suiker in die lemoensap oor lae hitte en kook vir 5 minute oor lae hitte om te verminder.

2. Gooi warm stroop oor die warm koek.
Laat die koek goed afkoel voordat die roomkaas versiersel opgesit word.
Moenie gaatjies in die koek insteek nie.

Roomkaas versiersel
230 g Roomkaas
½ k Botter
450 g Versiersuiker
1 t Vanielje geursel

Metode
1. Room eers die botter en die roomkaas appart sodat dit romerig en lig word.

2. Voeg die botter en roomkaas saam en klits goed deur.

3. Voeg die versiersuiker en vanielje geursel by.

Hoeveelheid: 1 ringkoek of 1 lang broodjie.

Bron: Annelien Pienaar.

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-08T19:29:35+00:00 0 Comments

Leave A Comment