Duitse Appel en Spesery Koek (Laktose Intoleransie)

Duitse Appel en Spesery Koek (Laktose Intoleransie)

My skoonsus is ‘n mediese dokter in Stellenbosch en sy is trots Duits!
Hierdie is een van haar goue resepte wat ek oor die jare heen bak en dit bly altyd ‘n wenner.

Resep
2 jumbo eiers
1 kop sonneblom olie – klop saam met die eiers totdat dit lig en donsig word.
1 kop witsuiker
1 el vanielje geursel
2 kop koekmeel
2 tl kaneel
1 knippie gemmer
1 tl sout
2 tl bakpoeier
4 – 5 Granny Smith appels – dun gesny in repies – omtrent 4 kop vol maak
½ kop gevlokte amandels

Metode
1. Voorverhit oond na 180 ˚C en berei ‘n pyrex bak van 19 x 30 cm voor.

2. Klop die olie en eiers totdat dit lig en donsig is.

3. Voeg die suiker en vanielje geursel by en meng sodat dit nog steeds lig en donsig is.

4. Vou die koekmeel, amandels, kaneel, gemmer, sout en bakpoeier by en meng deeglik deur.

5. Voeg die dun gesnyde appels by en moenie skrik nie, die appels gaan meer lyk as die beslag.
As die appels eers in suurlemoen water geweek was droog dit BAIE goed af voordat dit in die beslag gebruik word.

6. Skep in bak en bak vir 40 – 50 minute totdat gaar.

Stroop
1 kop water
1 tl vanielje geursel
½ kop wit Suiker
½ kop Treacle suiker
1 kop klapper melk

Metode
1. Kook alles saam en gooi kokend oor die warm koek.

2. Laat afkoel en bedien lou of koud.

Versiersel
250 ml kunsmatige room – Orley whip
1 tl vanielje geursel
½ – 1 – kop versiersuiker

Bron: Dr.Christa Domesle Pienaar, 1996.

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-10T12:06:57+00:00 0 Comments

Leave A Comment