Voortreflike Sjokoladekoek

Voortreflike Sjokoladekoek

Hierdie reseppie het tannie Santa Bester vir haar kleindogter gebak nadat sy ‘n groot been operasie gehad het en sy moes op die ouderdom van 7 jaar weer van vooraf leer loop en alles stadig neem.
Waarlik ‘n wonderlike koek om mee fees te vier!

Voorbereiding van enige pan waarin daar gebak gaan word.
Ek spuit as ‘n reël die panne eers deeglik en dan sprinkel ek ‘n mengsel (50:50) koekmeel en mielieblom in die pan en bedek die binnekant so goed as moontlik.
Skud die oortollige meel uit.
Dit sal help om die koek mooi te ontvorm en dit sal nie vassit nie.


RESEP
210 g koekmeel
15 ml bakpoeier
knippie sout
150 ml melk
115 g botter
50 g kakao
100 ml kookwater
4 eiers – geskei
10 ml vanielje geursel – speel met die geure, helfte rum of brandewyn, selfs koffie
250 g strooisuiker
15 ml gliserien – olie of ekstra botter

Metode
1. Voorverhit oond na 180 ˚C.
Berei 2 panne voor, vorm van keuse.

2. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam.

3. Verhit die melk tot kookpunt en smelt die botter daarin

4. Meng die kakao met die kookwater en voeg die geursel en melk by.
Maak seker daar is geen klonte in die kakao nie.

5. Klits die eierwitte styf in aparte bak.

6. Voeg dan die eiergele een vir een by terwyl jy nog die eierwitte styf klits.

7. Voeg dan die strooisuiker by en hou aan klits totdat die mengsel lig en donsig is.

8. Sif die koekmeel oor die romerige mengsel en vou versigtig met ‘n metaal lepel in.

9. Voeg laaste die gliserien en die res van die kakao mengsel by.

10. Skep beslag in gesmeerde panne en bak vir 20 – 25 minute.

11. Laat die koeke effens afkoel voordat jy dit uitkeer op draad rakke.

12. Versier met versiersel van eie keuse.

Hoeveelheid: 2 ronde koeke 23 x 23 cm / 1 groot ring koek / 1 oondpan.

Bron: Santa Bester, met aanpassings van die oorspronklike resep uit Mariëtte Crafford-Barnard se boek, Kermis kos, bladsy 11.

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-10T13:24:34+00:00 0 Comments

Leave A Comment