Volkoring Broodjie

Volkoring Broodjie

Hierdie broodjie was altyd my Ma se noodbroodjie.
Sy het so paar gemaak en dan die rou deeg net so gevries.
Sodra sy dit nodig gehad het, het sy dit uit gehaal en dan vir 1 uur buite laat ontdooi en dan soos normaal gebak.
Die broodjie word nie met gis gebak nie, maar wel ‘n chemiese rysmiddel, koeksoda.
Soos julle in die les van rysmiddels kan onthou het koeksoda altyd ‘n suur nodig om dit te aktiveer, die karringmelk bevat genoeg melksuur om die proses aan die gang te sit.
Die karringmelk kan ook met gewone joghurt vervang word omdat dit ook natuurlik deur bakteriele werking aangesuur het.

250 g volkoring steengemaalde meel
250 g witbrood steengemaalde meel
100 g botter
300 ml karringmelk
10 ml koeksoda
5 ml sout
5 ml strooisuiker – opsioneel vir diabete

Metode
1. Vryf die botter in die gesifte meel, suiker en sout in.

2. Meng die koeksoda eers met die melk om goed op te los, voordat dit by die karringmelk ingemeng word.

3. Voeg die melk mengsel by die meelmengsel en druk liggies aan mekaar. Knie effens en verdeel in 2 balle.

4. Smeer die balle met eiergeel en melk mengsel om as “gom” te dien as jy beplan om sade op die brood te strooi vir versiering. Sny dan 2 diep kruise op die balle en bak dadelik.

5. Bak by 200 ˚C vir 25 – 30 minute.

Variasie vir diabete
Ek beveel aan dat diabete wat hierdie broodjie wil bak, die wit meel met volkoring vervang, haal die suiker heeltemal uit, voeg 125 ml semels by en rasper 1 appel by om die GI te verlaag. Een sny van 15 g mag nie oorskry word nie.

Porsies: 4 – 6.

Bron: H. Bezuidenhout, 1998.

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-11T05:51:09+00:00 0 Comments

Leave A Comment