Rolkoek

Rolkoek

Les
1. Sommige van die Europese land noem dit Roulade of dit nou soet of sout is.

2. Die swissroll se beslag moet ‘n dik romerige amper meringue dikte konsistensie hê.

3. Die koek bak baie vinnig omdat dit in ‘n lang plat reghoekige pan gebak word en nie baie hoog rys nie. As jy dit te lank bak word dit hard en bros soos ‘n koekie en sal breek as dit gerol word. Maak ook seker jou oond temperatuur is perfek deur ‘n eksterne oond termometer te gebruik…kyk op www.loot.co.za

4. Terwyl die koek bak, maak ‘n vadoek nat en draai al die water uit. Sprinkel ‘n dik laag strooisuiker op die vadoek 1 minuut voordat die koek uit die oond kom. Dit help die suiker om eweredig op die rolkoek vas klou. Verder voorkom die nat lappie dat die koek nie bars nie.

5. Keer die koek op die vadoek uit, trek die waspapier af en sny bros kante af anders gaan dit die rol laat bars en nie mooi oprol nie.

6. Ek het die wonderlikste kleef vrye velle by Spar ontdek en gebruik dit in plaas van bakpapier wat alewig vasklou. Hier haal ek nie die vel af nie.
Ek sny die kante van die rolkoek af en rol dan op met die vel en laat vir 4 ure afkoel voordat ek die vulsel insit.

7. Die doel van die invou metode met meel in mengsels is om die lug wat tydens die klitsproses vasgevang is nie uit te werk nie omdat lug as ‘n rysmiddel dien.Dus, moenie dit klits nie, vou in.

Resep
120 g koekmeel
1 tl bakpoeier
knippie sout
4 eiers
1 el suurlemoensap
160 g strooisuiker – plus ekstra vir sprinkel

Metode
1. Voorverhit oond tot 200 ˚C.

2.Smeer ‘n bakplaat van 260 x 380 mm goed. Maak seker dat die pan korrek is, te klein pan sal die koek te dik laat uit kom en dan ook ‘n kraak veroorsaak tydens op rol.

3. Sif koekmeel, sout en bakpoeier saam.

4. Klits eiers tot lig en skuimerig en klits dan suurlemoensap by.

5. Voeg die suiker geleidelik by en klits baie goed sodat die suiker kan oplos, die mengsel moet liggeel en donsig wees.

6. Vou een helfte van die meelmengsel in deur dit eers oor die eiermengsel te sif. Herhaal met die ander helfte.

7. Gooi die beslag in die voorbereide bakplaat en bak vir 10 – 12 minute.

8. Doen voorbereiding van vadoek met suiker besprinkel

9. Keer die rolkoek op die vadoek uit en sny die kante af.

10. Rol op en laat 4 ure lank koud word terwyl dit opgerol is. Verwyder na 30min die klam doek en rol weer op. Bedek weer liggies.

11. Sit enige mengsel in bv. aarbei charlotte mousse, kaaskoek vulsels, versoete room, karamel kondensmelk, vlavulsels, roomys, die lys is nimmer eindigend.

Variasie
Sjokolade rol
Vervang 50 ml van die koekmeel met kakao en maak die kakao met 25 ml warm water aan.
Swart sterk koffie kan ook gebruik word saam met kakao.
Vir ‘n vulsel sal ‘n heerlike bakkersvla of roomkaas vulsel goed werk.

Krulletjies op buitekant van rolkoek
Ek haal so 50ml van die wit beslag uit en kleur dit sommer met bruin of swart kleursel.
Met ‘n dun spuit neusie no. 0 kan jy dan patroontjies trek op die bakpapier, bak vir 3 minute om te
set en sit dan die wit beslag oor.

Bron: Aangepas vanaf Kos en Kookkuns vir VKIII, 2003, A Pienaar.

Foto: Vergunning van Pinterest.

Print Friendly, PDF & Email
2017-09-25T08:17:25+00:00 0 Comments

Leave A Comment