Gekleurde Ystervarkies

Gekleurde Ystervarkies

Dit is die beste om die koek ‘n dag voor die tyd te bak en dan te laat afkoel.  Stoor dit dan in die vrieskas om goed styf te word. Hierdie koek sny makliker sonder baie krummels, en absorbeer ook die stroop beter, die koek val ook nie uitmekaar as dit gedoop word nie, dus is die hantering van elke blokkie baie maklik. Ek het altyd so 2 gevriesde koeke gereed vir nood gevalle. Die klapper word nie vir die 3 kleure gekleur nie, net die verskillende strope.

In hierdie resep het ek Eureka Mills se steengemaalde koekmeel gebruik. Ek het die meel twee keer met ‘n baie fyn siffie gesif sodat die fynste meel opgevang kan word. Daarna het ek die meel per koppie of 140g mate met 45 ml (3 e) mielieblom aangepas vir die fyn tekstuur in die koekbasis. Hierdie aanpassing is nie nodig indien u gewone meel sou gebruik. Steengemaal is egter die pad om te gaan vir gesonde en goeie kwaliteit gebak.

Koek
250 g botter of Rama of Stork bak margarien
2 kop suiker
4 eiers
125 ml melk
3 kop koekmeel
15 ml bakpoeier
5 ml vanielje geursel
½ tl sout

Metode
1. Voorverhit oond tot 180 ˚C. Smeer ‘n oondpan goed.

2. Klits die botter en suiker tot lig en romerig.

3. Voeg dan die eiers een vir een by, klits eers baie goed voordat die volgende eier bygevoeg word. Die mengsel moet weer lig en donsig word.

4. Voeg die melk by en meng deeglik.

5. Sif die koekmeel, sout en bakpoeier saam en vou met ‘n metaal lepel in by die eiermengsel.

6. Gooi die beslag in die gesmeerde oondpan en bak vir 50 – 60 minute of totdat ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.

7. Laat koek afkoel en vries tot die volgende dag.

Sjokolade Stroop
3 kop suiker
¾ kop kakao
1½ kop water
15 ml botter of margarien

Metode
1. Voeg al die bestanddele behalwe die botter in ‘n kastrol en verhit sodat die suiker stadig kan smelt.

2. Sodra suiker gesmelt is, verhoog hitte en bring tot kookpunt.

3. Terwyl die stroop kook voeg die botter by en roer goed deur.

4. Hierdie stroop moet vars berei word en warm gebruik word.

Wit Stroop
2 kop witsuiker
1 kop water
3 eierwitte
5 ml vanielje geursel

Metode
1. Verhit die suiker en water tot kookpunt en kook vir 5 minute.

2. Klits die eierwitte styf.

3. Voeg die stroop geleidelik by die styf geklitsde eierwitte.

4. Voeg die vanielje geursel laaste by.

5. Die rede vir die eierwitte is om koek stewig te hou en die klapper ook mooi te help klou.

Pienk Stroop
Die stroop word presies soos die wit stroop gemaak, daar word net kleursel en 5 ml rooswater by
stap 4 van die mengsel gevoeg.
Jy kan met paar druppels gel kleursel begin en self besluit hoe lig of donker jy dit wil hê.

Doop van die blokke
1. Ek sny my blokke in 4 x 4 cm blokke.

2. Ek maak eers een kleur klaar voordat ek met die ander kleur aangaan.
Die klapper word maklik vuil dus doen ek die bruines laaste.

3. Ek gebruik ongeveer 500 g klapper op ‘n baksel.

4. Om mee te begin, stroop in een diepbord en klapper in ‘n ander, Doop die koek eers op die maag en die rug, draai en doen die kante, as jou vingers taai word lek dit af, grappie, vat 2 vurke vir die werk.

5. Plaas die blokke in die klapper en bedek al die kante.

6. Laat afkoel op drup rakkie.

Lewer 40 blokke.

Bron: Annelien Pienaar en Hantie Bezuidenhout, 1999.

Print Friendly, PDF & Email
2017-08-05T19:16:06+00:00 0 Comments

Leave A Comment