Tuisgemaakte Suurdeeg plantjies

Tuisgemaakte Suurdeeg plantjies

Hierdie suurdeeg plantjie resep is geskik om enige brood en beskuit mee te bak.
 
LES
Suurdeeg het 3 goed nodig om te kan vermeerder en geaktiveer te word.
1.  HITTE
23 ° C – 35 ° C, dit is die optimale groei temperatuur van die gis selle.
Daar is wetenskaplikes wat die temperature bevraagteken maar ek werk volgens die ratio.
2. SUIKER
Suiker is die “kos” vir die gis selle om te kan groei, die chemiese reaksie stel gasse (koolstof) vry wat die brood of beskuit laat rys.
3. VOG
Water is nodig vir die gis selle om te vermeerder en suiker om in op te los.
Asook stoom in die gebak in te bring sodoende met die rys proses te help tydens die bakproses.
1. MOENIE sout byvoeg omdat dit die aktiwiteit van die gis selle belemmer of laat afneem en ook die smaak van die spesefieke suurdeeg nadelig sal beinvloed.
2. Ek het ‘n knie kombersie (nie skoot kombersie) waarmee ek my goed die heeltyd toemaak sodat dit ‘n lekker broeikas maak, jy kan ook ‘n koelhouer gebruik en ‘n beker met warm water saam met die mengsel in die koelhouer sit om die temperatuur by 30 ° C te hou.
Koop sommer by apteek ‘n goedkoop termometer, glas een werk ook.
3. Om jou eie plantjie te laat voort leef – hou so 100 ml van die beginner plantjie terug en vul aan met 250 ml koekmeel, 5 ml suiker en genoeg lou warm water om ‘n slap deeg te vorm,  so leef die plantjie voort.
Die plantjie kan in die yskas gehou word as jy dit nie gaan gebruik nie.
Haal dit ‘n dag voor jy bak uit om aktief te raak en voeg dan die mengsel by om dit te laat groei.
4. Hoeveel tuisgemaakte suurdeeg plantjie om te gebruik.
Volg die resep se instruksies.
As jy net uitsluitlik met die plantjie wil bak gaan die proses baie lank neem.
As jy vinniger wil werk kan gis bygevoeg word.
Onthou, hoe meer plantjie jy gebruik hoe sterker die aktiwiteit.
5. Die ratio vir brouers gis is – 1 kg meel tot 10 g brouersgis.
SOETMOS
400 g rosyne met pitte
700 ml lou warm water
250 ml koekmeel
5 ml suiker
METODE
1. Kap die rosyne baie fyn, gebruik verkieslik ‘n voedselverwerker.
2. Voeg lou warm water by en laat vir 4 dae op warm plek sonder ‘n trek staan.
Geen direkte sonlig en hou bedek.
Sodra die rosyne begin dryf is die mengsel gereed.
Ek gebruik ‘n koelhouer met botteltjie warm water in en ruil gereeld sodat die temperatuur konstant kan bly.
3. Dreineer die mengsel deur sif en gooi die rosyne weg.
Die vloeistof gedeelte is die suurdeeg.
As daar nog stukkies in is suig deur kaasdoek.
4. Voeg die koekmeel en suiker by en meng tot ‘n slap pasta en laat weer op warmplek sonder trek staan.
Los vir halwe dag.
5. Gebruik volgens resep spesifikasies
AARTAPPELSUURDEEG
4 aartappels – medium grootte
4 kop kookwater
½ kop hops
1 kop koekmeel
4 el suiker
10 g brouersgis
METODE
1. Kook aartappels tot sag en hou die water terug om die hops in te kook.
Laat effens afkoel en maak fyn.
2. Kook die hops stadig vir 15 minute in die aartappels se water.
Dreineer hops en behou die water.
3. Meng die suiker met die koekmeel en voeg die fyn aartappels by.
4. Voeg die hopswater (hou 100 ml uit om gis in op te los) by en laat afkoel tot lou.
5. Week die brouersgis in die 100 ml water en roer tot opgelos.
Voeg dit by die meel en aartappel mengsel.
6. Laat in warm plek staan vir 3 – 4 ure en roer as die suurdeeg begin opkom.
7. Gooi oor in skroef bottel en moenie styf skroef nie, dit moet asemhaal en laat op koel plek totdat jy dit gebruik.
(Jy mag dalk ‘n ontploffing hê en dink die Filistyne is op jou, regtig dis ‘n vreeslike knal as daai deksel afskiet)
Lekker bak.
BRON: Annelien Pienaar.

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-02T14:12:37+00:00 0 Comments

Leave A Comment