Bobotie

Bobotie

Soos ek al van te vore genoem het, moes een van my voorvaders definitief in die spesery handel gewees het. Ek kan net nie sonder “bossies” kook nie. En wat is nou nie meer geskik as ‘n bobotie vol van Maleisiese geure en kleure nie?

Afhangend van die funksie waarvoor ek die Bobotie maak, word dit elke keer in ander vorme aangebied. Ek gebruik kolwyntjie pannetjies of klein afrika drie poot potjies om in te bedien en te bak. Ek gebruik die oorskiet vulsel vir pasteitjies en ook Springroll vulsels. Daar is so baie wat mens met die vleis kan doen.

By oorlewering het my een Maleisiese vriendin haar ouma se weergawe van waar die Bobotie vandaan kom vertel. Gewoonlik het hulle as kinders na die sondag maal die oorskiet skaapboud en blad verder verwerk in fyner vleisies. Daardie vleis is dan met klomp kruie en speserye gemeng en dan in ‘n oondskottel gedruk en met ‘n melk en eier vla mengsel bedek dat dit nie uitdroog nie. Haar ma het vars suurlemoenblare opgerol en saam met roosmaryn takkies in die bak gedruk en dan so gebak. Want hulle was te arm om Lourier blare te bekostig. Sy het geelrys gekook met saffraandrade en gegeur met casja of ster anys.

Ek hou persoonlik van ‘n dik vla laag en die resep is ook so geskryf vir ‘n dik laag. As jy van minder vla hou verdeel net die melk en eier sodat die resep uitkom soos die foto hierbo.

Vleisvulsel
3 e Olyfolie
2 Uie – groot – grof gekap
2 e Knoffel – fyn gedruk
1 e Gemmerwortel – vars gerasper
2 e Kerrie poeier
1 e Borrie
1 t Koljander – fyn
½ t Komyn – fun
½ t Kaneel
½ t Neutmuskaat
½ t Fenegriek – fyn gemaal
1 kg Maalvleis
2 e Suurlemoensap
½ k Soet witwyn
3 e Appelkoos konfyt
3 e Blatjang
2 e Sagte bruinsuiker
1 e Woestersous
2 e Tamatie puree
3 Witbrood snye in wyn geweek
1 k Pitlose rosyne
Suurlemoen blare of lourier blare

Smeer oond skottel van so 19 cm x 30 cm en verhit oond na 180 ˚ C.

Verhit olie in pan en soteer ui, knoffel, gemmer en die res van die kruie en speserye saam om die geure beter te laat ontwikkel.

Voeg die maalvleis by en braai tot gaar. Die maalvleis moet met hout lepel lekker fyn opgebreek word.

Meng saggies met vurk sodat die maalvleis ‘n ligte los tekstuur het.

Druk in gesmeerde oondpan en vryf die oppervlak mooi plat voordat die vla oor gegooi word.

Vla bolaag
2 k Melk
4 Eiers – groot – geklits
Sout en peper na smaak

Meng melk en eier goed en gooi deur sif om die vla glad te kry.

Rol die suurlemoen blare op en druk dit in die bobotie saam met roosmaryn takkies.

Bak vir 35 – 45 minute en laat 10 minute staan voordat jy bedien sodat die mengsel lekker kan stol.

Bedien met geelrys wat met steranys gekook is, een ster anys is genoeg.

PORSIES: 6.

BRON: Annelien Pienaar, 2015, www.bosenbergguestfarm.co.za

 

Print Friendly, PDF & Email
2017-04-14T17:45:36+00:00 0 Comments

Leave A Comment